RSS Feed

Terug…

Posted on

Die besef dat jy nou op jou eie sal moet aangaan met ‘n 10 maande oue baba is nogal angswekkend. Dit was my realiteit toe ek geskei is.

Ek moes van voor af begin. Werk soek, want ek was in die bevoorregte posisie om ‘n tuisbly mamma te kon wees. Ek moes blyplek soek, ‘n dagmoeder. Waar begin mens van vooraf ‘n lewe vir jouself bou as jy so gewoond was aan iemand met wie jy jou vrese en ook jou vreugde kon deel en wat altyd by jou was en jy geglo het altyd by jou sal wees. Dis ‘n mooi droom wat in ‘n nagmerrie verander het.

Die soektog na werk, blyplek en ‘n dagmoeder het in alle erns begin. Ek het ‘n wonderlike dagmoeder gekry en sy was baie goed vir Ben-Arthur. Ons sien haar nog gereeld en hy wil nog baie gaan hallo sê en spog met sy prestasies by die skool.

Blyplek was nie so maklik om te kry nie – dis so moeilik om blyplek te kry as jy ‘n kind het. Mense met woonstelle agter in hulle erwe wil nie kinders daar hê nie. Moeilik om te glo, maar daar is sulke mense. Uiteindelik het ek ‘n plekkie gekry, dit was ‘n enkel motorhuis wat die vrou verander het deur ‘n skuifdeur in te sit, ‘n badkamer en dan ‘n wasbak vir die skottelgoed, daar was nie matte in nie, maar dit was ‘n dak oor ons koppe en ek was baie dankbaar daarvoor – daar het ons vir 8 maande gebly en toe na ‘n 1 slaapkamer woonstel getrek. Daar het ons vir ‘n jaar gebly voordat my pa my gehelp het om ons huidige plek te koop – ‘n 2 slaapkamermeenthuis.

Gelukkig kan ek sê dat ek darem maklik werk gekry het, ek is nie meer waar ek begin het nie, maar ek werk lekker en geniet dit vreeslik.

Die moeilikste was die alleenheid – veral in die aande as Ben-Arthur slaap. Naweke was ook nogal moeilik. Jy word nie maklik genooi vir ‘n kuier as jy geskei is en al jou vriende getroud nie. Daarom het ek 2 keer ‘n maand na my ouers gery en daar gaan kuier. Daar was ek nie alleen nie, kon ek lekker kuier en gesels en daar kon ek myself wees. Daar kon ek ook stilbly as ek nie die behoefte gehad het om te praat nie.

Ek is bly om te kan sê dat ek nou deur die rouproses is en ek het weer lus om aan te gaan. Ek het laas jaar begin om by my buurvrou te kuier. Ek moet net eers sê dat Ben-Arthur al baie lank almal in die kompleks geken het voor my. My buurvrou spot nog steeds en sê dat ek soos ‘n kluisenaar geleef het voordat ek by haar begin kuier het.

Dis nou 6 jaar vandat ek geskei is en ek voel weer lewendig en lus vir die lewe. Ek voel nie meer alleen nie en ek het weer lus om dinge te doen en rigting te kry.

Dis my besluit: Ek neem beheer van my lewe en gaan elke oomblik van dit en my seun se lewe ten volle geniet en benut.

E

 

9 responses »

  1. Welkom terug, sus. Ek is so bly om te hoor jy is weer “Elmien”. Ja jy is deur ‘n harde tyd en die Here het jou gedra. Ek was deel van alles en het alles saam met jou beleef. Ek het mos daardie tyd vir jou gesê dat jou liggie in die tonnel weer helder sal skyn.

    Groete en baie liefde

    Reply
  2. (((Elmien))) Jou seun gaan jou respekteer vir jou opofferinge. Om nie eers te praat van die spesiale band wat daar tussen julle moet wees nie. Ek het geen idee hoe erg dit moes gewees het nie, maar ek is bly die Here het jou gedra hier deur.

    Reply
  3. Dit is wonderlik om te sien dat jy sterk anderkant uitgekom het. Sterkte vir jou!

    Reply
  4. Ek is bly jy’s ok!😉

    Reply
  5. Mens dink jy is in ‘n donker tonnel waaruit jy nie gaan kom nie, ne?! Ek is so bly jy is klaar getreur en weer reg vir die lewe. Egskeiding is nie vir sissies nie!

    Reply
  6. Welkom terug … en sterkte met jou.

    Nou moet jy die lewe aan die horing vat ek bloots ry, soos Dellie sou se🙂

    Reply
  7. Kokkewiet, ek loop ook maar die paadjie. Alles wat jy sê klink so bekend! Maar soos die spreekwoord sê: “What doesn’t kill you, makes you stronger.” ‘n Mens word net elke dag sterker en beter.
    Maar ek sou dit nie alleen kon doen nie, daar was so baie mense langs die pad wat my gehelp het deur die jare, hulle is my engele. God het hulle vir my gestuur en ek dank Hom daarvoor!!
    Sterkte vir jou en jou seun!!

    Reply
  8. Iemand het vir my gese om te skei is erger as die dood want die afskeid is nie finaal nie! Sterkte!

    Reply

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: